Hartroerende stuk geskryf uit Plakkerskamp

18 Nov

 

Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was

om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2010.

Sal iemand ooit weet of onthou klein Jana was ook vir ‘n rukkie, ‘n

volle 16 maande, hier op aarde, of beteken dit as jy arm is en jy gaan

sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net

moet aangaan sonder jou, sonder om jou te mis of om ‘n gat te los? In

Sarie se hart het haar kind se dood ‘n gat gelos – vir ewig. Die winter

het ons gevang hierdie jaar.

Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele

bestaan opgesom in ‘n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed?

Ek leef en oorleef met ander mense se weggooigoed op hierdie godverlate

vlaktes waar nie eers ‘n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil

hier wees nie, niemand moet hier wees nie…

Die kamp en sy mense en die moedeloosheid is besig om my siel lagie vir

lagie af te skil tot daar niks van my gaan oorbly nie. Dit maak my dood,

maar op ander maniere as wat honger of siekwees jou dood maak. Dit maak

die rede dood ‘n die rede vir opstaan en die rede vir weer probeer. Dit

maak dit net dood.

 

Daar was vandag niks om te eet nie. My maag het al so gekrimp dat ek

net een keer ‘n dag hoef te eet. Ja, om te dink daar was ‘n tyd wat ek

maer wou wees. Ek wonder of dit my maag of my hart is wat pyn, want

sien, Here, ék kan nog honger gaan lê, maar ek kan nie my kinders so

sien nie! Dis ‘n pyn wat jou lyf nie kan vat nie! Ek het vanaand net

water op die gel-stofie gekook tot Magrietjie en boetie, Jan, op die ou

end aan die slaap geraak het. Hulle het bly wag en mamma vertrou en nie

eers gevra of getwyfel nie. Ek kon nie sê hier’s niks om te eet nie.

Die kerk se mense het oor die naweek die afvalkos gebring wat Checkers

uitgooi, maar wat jy nog kan eet – en jy sal dit eet, selfs al stink dit

soos iets wat die varke moet eet. Jy grawe die beste uit vir jou kinders

en jy eet dit. Dit het gehou tot gister, maar vandag was daar niks.

Ek probeer, Here, regtig, ek probeer. Ek versamel “scrap metal” en ek

pas die mense se karre op by die Spar en soms kry ek ‘n “tip” of ‘n

brood, maar ek vra nie ander mense om agter my te kyk nie, regtig! Ek

sál nie vra nie! Ek kán nie, Here, ek voel ek mág nie! Ek sal eerder

iets by iemand vat en u my laat straf – al is armwees genoeg van ‘n

straf. Ek sal eerder nóg straf vat, maar ek kán nie ‘n ander mens vir

iets vra nie. Asseblief, Here, moet my nooit so arm maak, dat ek moet

vra nie.

Ek vra net vir u, Here, want u weet. U móét weet, want u het dan alles

gemaak.

Of het ék hierdie omstandighede gemaak? Is dit my skuld dat ek hier is?

Is dit iets wat ek gedoen het en nou verdien ek om arm te wees? Miskien

nog ek, Here, maar nie my kinders nie! Hulle het mos nie gevra om hier

te wees nie. Hulle het mos nie gekies nie…

Hoe maak u kinders en laat hulle doodgaan van koue … doodgaan omdat

hulle nie medisyne kan kry wat die siekte stop nie? Hoe laat u kinders

vanaand honger gaan slaap omdat hulle ma net water het om te kook?

Hoekom laat u toe dat wrede, ryk kinders hulle spot uitspoeg na dit wat

ons huis noem? Hulle weet nie wat hulle doen nie! Hulle weet nie hoe

hulle woorde, wrokke en wrakke van ons harte maak nie. Vergewe hulle,

Here, want hoe móét hulle weet? En hoe kán jy, as jy alles het, jou in

mense se nood indink of inleef of invoel?

Maak my kinders sterk, Here, want hulle maak my sterk. Ek wil ook

opstaan as ek sien hoe hulle elke dag sonder kla of moeg raak of inkrimp

op hulle voete bly en selfs trots bly. Ja, hulle lag nog, hulle hoop

nog. Ek wil selfs sê hulle vertrou nog  op my as ma wat maar sal sorg en

sal voorsien soos wat u vir my gee om te kan voorsien.

Hulle leef met ‘n verwagting. Hoe kan ek dan opgee? Ek kan mos nie.

Nee, solank as wat u my genadig is en ek vandag oorleef, sal ek maar

weer opstaan more en sal ek veg vir die more daarna vir my kinders. Ek

sal more weer my kinders vertel daar kom iets goed hierna, al kan ons

dit nog nie sien nie en al kan ons dit nie eers dink nie, want op ‘n

manier glo hulle dit. Al leef ons hier eenkant waar die lewe ons

weggegooi het. Al reën dit weer en muf dit verder en al koop niemand

meer my “scrap metal” of “tip” my vir die karre wat ek oppas nie. Ek

kies lewe! Ek kies dit, want dis in my bloed en dit loop deur my are en

deur die eeue. En dit loop deur ons geskiedenis en deur elke uithoek van

hierdie land. Dit loop deur my en dit loop ook deur Oom Bertus wat die

kos bring, Sarie wat treur, Liena wat te veel drink, Pieta wat ‘n

brandweerman wil word en selfs Magda wat wag om dood te gaan.

Lewe. En hoop. En geloof. Wees ons genadig, Heer, terwyl ons bewerig en

bang die lewe kies.

 


Ek het dié as ‘n email gekry, en ek weet ongelukkig nie wie die skrywer is nie.

7 Responses to “Hartroerende stuk geskryf uit Plakkerskamp”

  1. rosalindreloaded November 18, 2010 at 2:29 nm #

    Ek was ookal baie in plakkerskampe het presies dieselfde ervaring van hoe mense leef daar. Daarom, en om duisende ander redes, sukkel ek met die begrip van ‘n liefdevolle god.

    • hx November 18, 2010 at 2:52 nm #

      ‘n Mens dink die lewe is wit en swart maar die grys stukke tussen-in raak soms net te groot. My hart was stukkend na ek dit gelees het.

  2. dette November 18, 2010 at 10:32 nm #

    dankie bokkie,
    ek geniet al die wordpress wat jy stuur

  3. bet365 November 24, 2010 at 8:00 nm #

    hello I was luck to search your blog in wordpress
    your Topics is excellent
    I obtain much in your Topics really thanks very much
    btw the theme of you site is really terrific
    where can find it

  4. Mark Februarie 5, 2013 at 5:42 nm #

    Is die blog nog active, want ek sien die meeste van die datums dateer uit 2012?

    • hx Februarie 23, 2014 at 4:08 nm #

      Hi Mark
      EK was bietjie in ‘n sielsgeveg die afgelope paar jaar. Nou weer terug😉

  5. magda erasmus Februarie 18, 2014 at 1:07 nm #

    Ja nee ek ken ook die tipe leefstyl. Om eerlik tye wees ek beleef dit nog steeds. Het nie werk nie, kan nie behoorlik kos op tafel sit nie, nie dat ek eers n tafel het nie en dan reen dit ook so in by die klein wendyhuisie waarin ek en my 2 kinders bly. Dis al so n skerp muf reuk en dis al n gewoonte vir as dit reen dat ons regop sit met bakke want die bed reen sopnat. Maar al wat n mens sterk maar hou in die lewe is ons geloof en vertroue op Liewe Jesus. Ons almal wens vir n normale lewe waar jy kan sit en se dis jou bad, jy kan gaan bad, nie in n klein skottel of wasbak meer nie en hier is n sitkamer waar jy familie toe kan nooi om koffie te kom drink want op die oomblik kom niemand agter by jou wendyhuisie in nie. Ja ons almal loop die hartseer paaie maar dit maak ons net sterk. Mag ons lewens beter word voor dit te laat is. Amen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: