Hartsvriende

23 Feb

Moeg mamma

Om iewers met my kinders te gaan is, soos vir die meeste ouers met 2 kinders onder 7, nogal ‘n massiewe uittog. –ek moet dalk bysê dat my jongste outisme het, en dit natuurlik die taak effe moeiliker maak-

Eerstens is daar die pakkery…ekstra stel klere, warm goed, my jongste se kos en koeldrank (sy is op ‘n spesiale diet) en al die gunsteling speelgoed. O’ja, en haar “blankie”. As ons die gedienstige blankie vergeet is daar GROOT moeilikheid (en ek praat nie van ‘n normale “ek is ongelukkig” tipe episode nie).

Tweedens moet almal effe netjies gemaak word, ‘n draai loop, en uit die huis probeer kom sonder dat die hond met ‘n vreeslike skelm sluip-aksie die ooptes van die kompleks binne-gaan. Indien die hond wél uitkom is dit ‘n petalje van ‘n ander soort. –dit het al so gebeur dat ons almal 30min later papnat gesweet die motor inval…ons worshond is besonder vernuftig as dit kom by ontsnappings- en wegkruip-tegnieke.

Die oomblik as ons by mense aan huis kom skandeer ek elke sigbare vertrek met ‘n valk-oog, soek onmiddelik na elke moontlike gevaar, losstaande glas engeltjie of die een of ander duur oorsese aandenking, lekkergoed of koekies wat rondlê (jongste mag nie suiker inneem nie), en probeer die omgewing onopsigtelik neutraliseer. Gewoonlik laat my vriende my maar begaan…

Die probleem is natuurlik ‘n onbeplande besoek, of ‘n gasheer (of vrou) wat nie bekend is met my kinders, of my jongste se diagnose nie. Ek is al ‘n regte “pro” as dit kom by Outisme 101, en verduidelik dan met spoed wat dit is, hoe dit haar affekteer, en hoe sy moontlik kan reageer. –dit elimineer die geskinder as ek nie by is nie… ”kan sy nie haar kind disiplineer nie”, “ek het NOOIT sulke probleme met MY kinders gehad nie”, “die kind kort net ‘n goeie pakslae”. Ja, ek het al alles gehoor en probeer om dit so spoedig moontlik teen te werk, nog VOOR dit ‘n besprekingspunt raak tussen die gasheer- en vrou, vannaand in die bed, as almal weg is.

Wat ek nie verstaan nie is huise wat GLAD NIE kinder-vriendelik is nie, selfs al woon daar kinders in die huis. HOE kry hulle dit reg dat hulle kinders NIE met die duur instrumente speel, die kristal-ornamente wat op elke tafeltjie staan omstamp, die duur WIT mat nooit ‘n kol op kry en die kinders NOOIT hulle koppe stamp teen die skerp hoeke van die heup-hoogte tafel nie? Mis ek iets?

Dit is ‘n vreeslike spanningsvolle affêre…vandat ons instap, totdat ons uiteindelik in die kar gehelp word. Ek moet die hele tyd verduidelik en vrae antwoord. “nee, sy mag nie eers ‘n KLEIN lekkertjie kry nie”, “nee, sy mag nie gaskoeldrank/aanmaakkoeldrank/gebottelde gif drink nie”, “haar terapie is in engels, en DIT is hoekom ek met haar engels praat”, en so aan en so aan.

Die vrede en rus wat my omvou wanneer ek by my eie (kindervriendelike) huis instap is iets om oor te skryf…ek raak sommer liries.

Natuurlik is daar die uitsondering. Die vriende waar my verkeerd-om gesin aanvaar word net soos ons is. Daar sal nie ‘n groot bohaai of ongelukkigheid wees as ‘n glas koeldrank omgeskop word nie, en ek hoef nie die hele tyd my kinders met valk-oë dop te hou nie. Daar waar ek rustig kan wees in die wete dat daar ‘n ekstra paar hande (gewoonlik my gasvrou vriendin s’n) is wat kan help wanneer ek na die 5de probeerslag steeds nie my aand-ete geëet kan kry nie.

Hulle help in liefde wanneer ek moeg is, help soek as my jongste verdwyn in die tuin, en gee my sommer net ‘n drukkie as hulle sien ek is hartseer. Dié vriende waar ek 100% myself kan wees, ek kan opdaag met geen grimering, in my pantoffels. Hulle tel op as iets val, keer voor ‘n kind seerkry, praat mooi as dit nodig is, is kwaai wanneer hulle moet wees. Ek het niks om te bewys nie, geen “ma van die jaar” kompetisie waarvoor ek ‘n oudisie moet doen nie. Hulle WEET ek is nie perfek nie, en hulle aanvaar my so, onomwonde en sonder voorskrif.

DIT is hartsvriende.

Ek het net ‘n paar, maar hulle beteken die wêreld vir my. Julle weet wie julle is xx

One Response to “Hartsvriende”

  1. tophamhannetjie@gmail.com Februarie 23, 2014 at 4:05 nm #

    Baie dankie vir die vertroue om hierdie wonderlike verhaal met ons te deel. Onthou dat God sulke mammas ekstra genade toedeel, julle word met baie vertrou . Sterkte en seen word jul toegebid
    Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: