Vertroue.
Dit het altyd so maklik gekom
Van kleins af
Almal en alles vertrou
Niemand sou my seermaak nie
Ek was naief
Tot ‘n hond my die eerste keer byt.
Ek was op laerskool, seker so 9 of 10. Ek en ‘n vriendin het speserye verkoop vir sakgeld. Geloop van deur tot deur met ‘n bestelvorm. Gawe tannies het dan speserye bestel, ons het huistoe geloop, my vriendin se ma het die bestelling sorgvuldig in sakkies uitgemeet, en dan het ons die bestelling gaan aflewer. Dit was nog die goeie ou dae, op ‘n toé klein plattelandse dorpie. Die wonderlike dae van veiligheid en vrede. Vryheid.
Terug na die ding met die hond. Ons het geklop, en ‘n oulike klein maltees het om die draai gekom. Die hond wat opspring teen my been het my laat dink hy wil hê ek moet hom vryf. Die byt in by bo-been was ‘n skok…en toe die ontsagtelike pyn. Die gevoel van verraad. My vertroue was geskend. Ek het gedink dit sou vir altyd wees.
Nodeloos om te sê was ek van toe af angsbevange die oomblik as ‘n vreemde hond op my afpyl. Die vrees het mettertyd vervaag in ‘n massiewe versigtigheid, later net ligvoetigheid.
En toe vergeet ek.
Of vergeet om te onthou dat honde byt, en seer kan byt.
Tot die volgende hond my byt. 20 jaar later. Nogal ‘n vriendin se hond, een wat ek al gevryf het, mee gespeel het, en ‘n hond wat rustig tussen my en haar kinders rondgedwaal het.
20 jaar terug moes ek al besef het, en geleer het, en geweet het.
Dit maak nie saak hoe vriendelik ‘n hond is nie. Hoe lekker julle speel nie, hoe baie jy hom vertrou nie. As hy die dag lus het, SAL hy jou byt. Veral ‘n vreemde hond, maar soms selfs ook een wat jy ken.
Wees ligvoetig, wees versigtig, wees bedag. Kyk uit vir die tekens. Dit is nou my onmiddelike reaksie. Dalk sal ek weer vergeet om te onthou, en dan sal dit dalk weer net so seer wees, sal ek weer verraai voel. Daardie dag sal die seer voel asof dit my insluk.
Hopelik sal ek nooit weer vergeet om te onthou nie.
© Hx
Dit is onverklaarbaar ek het dieselfde ondervind en in my binneste kan ek nie n hond vertrou nie alhoewel ek lief is om met hul te speel, ander ondervinding n kat sal n vertrek instap en tussen al die mense na my toe stap en teen my skuur of op my skoot spring.