En daar is dit verby…

25 Oct

Dit is sekerlik die aakligste gevoel…om lief te wees vir iemand en daardie persoon is nie vir jou lief nie. Ek praat nie van gewone liefde nie. Ek praat van ek-sal-alles-en-enige-iets-vir-jou-doen liefde. Liefde wat jou laat droom, laat huil, laat baklei. Daardie liefde waarvoor jy enige iets sal opoffer…daardie liefde waar jy ‘n ander persoon werklik eerste stel, selfs bo jouself.

Om iemand wat jou nie wil hê nie na te jaag met soveel passie, soveel hartstog, soveel liefde (ja DAARDIE liefde) is soos om met ‘n kar teen 300km per uur reguit op ‘n beton muur af te jaag. Die einde is noodlottig, intens en definitief. Daar is geen ander eindresultaat nie. Om te sê dit is seer is ‘n totale onderbeklemtoning van die realiteit. Dit is dood, pikswart…dit is ‘n besliste uitruk van jou hart deur iemand wat dit dalk in die eerste plek nie verdien het nie.

Ek voel dood. Ek voel te min. Ek is nie goed genoeg nie. Nie vir hom nie in elkgeval.

Vir so lank wou ek die regte, die perfekte, vrou wees. Altyd mooi aangetrek, doen die regte goed, sê die regte goed. Was (is) opreg lief vir sy familie, sy troeteldiere, sy vriende. Gaan uit my pad om altyd te help, altyd daar te wees. Stel alles af wanneer hy my dalk vir ‘n paar minute kon sien. Vir wat? Net om soos ‘n vuil waslap te voel na die tyd. Iemand wat net goed genoeg is wanneer hy voel ek is goed genoeg. Iemand vir wie daar net tyd is as hy so besluit.

Die toppunt van hierdie hartseer verhaal is dat ek hom sien as ‘n sielsgenoot…ons dink dieselfde, praat dieselfde, hou van dieselfde goed. Ons kan vir ure niks sê nie, beide net lê en lees of sommer ons eie ding doen en dit voel net so reg. Ek kan enige iets met hom deel, reguit praat uit my hart (behalwe natuurlik oor hoe ek voel oor hom). Ons kan praat oor ligsinnige goed soos rugby en bekendes, maar ook diep praat oor die lewe, ons drome en wat regtig vir ons belangrik is.

Daar is vir my niemand mooier as hy nie. Sy hande, sy oë, sy hart. Hy was in my oë perfek. Selfs na ‘n paar jaar is daar niks wat my pla of my irriteer nie. Niks wat hy kan doen wat verkeerd is nie. Net ‘n kyk van hom steek die vuur diep in my binneste aan…ek is soos klei in sy hande. Hy maak my rustig, in sy arms is ek tuis.

Hoe kan iets wat so perfek, so mooi, kan wees net weggegooi word? Ek verstaan nie hoe iemand van dit af kan wegstap nie. Dalk is die probleem dat ek die enigste een is wat so voel. Dalk gee hy my maar bietjie aandag nou en dan omdat hy vir my jammer voel. Ek sal nie die waarheid weet nie want hy praat nie. Nooit nie. Ek weet nie hoe hy voel of wat hy dink ten opsigte van my nie. Hy is so bang om my hoop te gee dat hy my drome plat trap, my hart vergruis.

Ek is op die punt waar ek moet wegstap. Nie omdat ek wil nie, glo my. Ek was nog nooit in my lewe so lief vir iemand nie. Ek droom oor hom…byna elke aand. Ek dink dalk vir my eie beswil is dit nodig om finaal afskeid te neem. ‘n Emosionele begrafnis te hou vir iets wat so deel van my is dat ek regtig sukkel om dit los te skeur van my bestaan.

Ek het vandag met die betonmuur kennisgemaak en dit is hopelik die keerpunt. Die punt waar ek besef dat dit verby is.

Woorde kom moeilik, ek weet nie hoe om wat ek voel neer te pen nie. Ek vra by voorbaat om verskoning vir die emosionele deurmekaar skrywe. Skryf is al wat help. Al lees niemand nie kon ek ‘n bietjie van wat ek voel uitkry. Dit is soos ‘n pleister op die seer.

Hopelik voel ek môre beter. Dalk is dit uiteindelik tyd vir die genesing om te begin.

Hx

8 Responses to “En daar is dit verby…”

  1. Monique Oktober 25, 2015 at 3:59 nm #

    Hx,
    Ek is besonder bly dat jy hierdie geskryf het, en ek vind dit ongelooflik dat ek vandag deur presies dieselfde ding gaan. Asseblief, hou aan skryf! Dit is nie net goed vir jou om alles uit jou kop uit te kry nie, maar jy weet nie wie nodig het om te lees wat jy te se het nie!
    Sterkte. Dit sal beter raak. Dit moet!
    M xxx

    • hx Oktober 25, 2015 at 6:53 nm #

      Baie dankie. Waardeer jou woorde. Sterkte vir jou! xxxx

  2. rondomtaliedraai Oktober 25, 2015 at 5:24 nm #

    *drukkie*❤

    • hx Oktober 25, 2015 at 5:53 nm #

      Dankie xx

  3. Daniël Bezuidenhout Oktober 26, 2015 at 12:20 vm #

    Jare gelede het ek weggestap uit ‘die perfekte’ huwelik, ondenkbaar vir die wat van buite af ons bekyk het.
    Dit was die beste ding – vir my in elk geval. Nie maklik nie, en ek moes harde klippe opkou.
    Vertrou jouself.
    Mens weet nie altyd WAT jy wil hê nie, maar jy weet goed wat jy NIE wil hê nie.
    Jy’s kosbaar, jou gevoelend tel ook.
    Laat niemand jou ever laat voel: geweeg en te liggevind….

    Volg jou hart maar luister na jou kop. Vertrou jou instrinkte.

  4. Helena Oktober 26, 2015 at 6:41 vm #

    Hx

    Ek voel ook so, om iemand lief te hê met jou hele hart en siel, en al wat jy terug kry is afbreek en afkraak.

    Vir 5 jaar doen ek alles vir hom, van voete skuur, naels knip toon naels knip, Sorg ook vir sy diere wat al so oud is dat ek hul moet voer elke aand.

    Nooit is ek te kwaad om kos te maak of om nog steeds om te gee nie. Maar alles is altyd net vir hom te veel om vir my te doen.

    Ek moet altyd hoor hoe F**T up ek is of dom of stupid, of ek kan nie dink nie, of jy is niks en sal nooit niks wees nie.

    Ek weet nie hoekom laat ek my vir ‘n 2de keer mishandel nie. Eers fisies, nou verbaal.
    En dit maak soveel seerder.

    Hy is besig om my lewens vreugde te steel. Ek gaan nerens, want ek mag nie allen iewers nie, ek bly op ‘n plot so ons kan nooit nerens gaan nie, bang vir inbrake. So ek offer letterlik my lewe op terwyl ek binne skree om net te onstsnap.

    Maar het tot die besef gekom, dat sodra iets of iemand jou lewensvreugde steel, raak ontslae daarvan.

    Ons stel onsself altyd laaste as dit kom by omgee, maar vir die eerste keer gaan ek opstaan en God en dan myself eerste plaas in my lewe.

    Niemand gaan my ten gronde laat gaan met sy tong nie……

    Ek wil die lewe aangryp en net gelukkig wees, al is dit om alleen te wees….

    Dames moenie dat hul jou breek en jou lewens vreugde steel nie,

    HC

    • hx Oktober 26, 2015 at 11:16 vm #

      Baie sterkte xxx

    • m.e. Oktober 26, 2015 at 12:38 nm #

      Asseblief sit jouself eerste vir ‘n slag. Jy moet na jouself kyk voordat jy vir ander kan sorg. Dit is beter om alleen te wees as in so ‘n situasie.

      Sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: