Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was
om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2010.
Sal iemand ooit weet of onthou klein Jana was ook vir ‘n rukkie, ‘n
volle 16 maande, hier op aarde, of beteken dit as jy arm is en jy gaan
sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net
moet aangaan sonder jou, sonder om jou te mis of om ‘n gat te los? In
Sarie se hart het haar kind se dood ‘n gat gelos – vir ewig. Die winter
het ons gevang hierdie jaar.
Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele
bestaan opgesom in ‘n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed?
Ek leef en oorleef met ander mense se weggooigoed op hierdie godverlate
vlaktes waar nie eers ‘n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil
hier wees nie, niemand moet hier wees nie…
Die kamp en sy mense en die moedeloosheid is besig om my siel lagie vir
lagie af te skil tot daar niks van my gaan oorbly nie. Dit maak my dood,
maar op ander maniere as wat honger of siekwees jou dood maak. Dit maak
die rede dood ‘n die rede vir opstaan en die rede vir weer probeer. Dit
maak dit net dood.
Daar was vandag niks om te eet nie. My maag het al so gekrimp dat ek
net een keer ‘n dag hoef te eet. Ja, om te dink daar was ‘n tyd wat ek
maer wou wees. Ek wonder of dit my maag of my hart is wat pyn, want
sien, Here, ék kan nog honger gaan lê, maar ek kan nie my kinders so
sien nie! Dis ‘n pyn wat jou lyf nie kan vat nie! Ek het vanaand net
water op die gel-stofie gekook tot Magrietjie en boetie, Jan, op die ou
end aan die slaap geraak het. Hulle het bly wag en mamma vertrou en nie
eers gevra of getwyfel nie. Ek kon nie sê hier’s niks om te eet nie.
Die kerk se mense het oor die naweek die afvalkos gebring wat Checkers
uitgooi, maar wat jy nog kan eet – en jy sal dit eet, selfs al stink dit
soos iets wat die varke moet eet. Jy grawe die beste uit vir jou kinders
en jy eet dit. Dit het gehou tot gister, maar vandag was daar niks.
Ek probeer, Here, regtig, ek probeer. Ek versamel “scrap metal” en ek
pas die mense se karre op by die Spar en soms kry ek ‘n “tip” of ‘n
brood, maar ek vra nie ander mense om agter my te kyk nie, regtig! Ek
sál nie vra nie! Ek kán nie, Here, ek voel ek mág nie! Ek sal eerder
iets by iemand vat en u my laat straf – al is armwees genoeg van ‘n
straf. Ek sal eerder nóg straf vat, maar ek kán nie ‘n ander mens vir
iets vra nie. Asseblief, Here, moet my nooit so arm maak, dat ek moet
vra nie.
Ek vra net vir u, Here, want u weet. U móét weet, want u het dan alles
gemaak.
Of het ék hierdie omstandighede gemaak? Is dit my skuld dat ek hier is?
Is dit iets wat ek gedoen het en nou verdien ek om arm te wees? Miskien
nog ek, Here, maar nie my kinders nie! Hulle het mos nie gevra om hier
te wees nie. Hulle het mos nie gekies nie…
Hoe maak u kinders en laat hulle doodgaan van koue … doodgaan omdat
hulle nie medisyne kan kry wat die siekte stop nie? Hoe laat u kinders
vanaand honger gaan slaap omdat hulle ma net water het om te kook?
Hoekom laat u toe dat wrede, ryk kinders hulle spot uitspoeg na dit wat
ons huis noem? Hulle weet nie wat hulle doen nie! Hulle weet nie hoe
hulle woorde, wrokke en wrakke van ons harte maak nie. Vergewe hulle,
Here, want hoe móét hulle weet? En hoe kán jy, as jy alles het, jou in
mense se nood indink of inleef of invoel?
Maak my kinders sterk, Here, want hulle maak my sterk. Ek wil ook
opstaan as ek sien hoe hulle elke dag sonder kla of moeg raak of inkrimp
op hulle voete bly en selfs trots bly. Ja, hulle lag nog, hulle hoop
nog. Ek wil selfs sê hulle vertrou nog op my as ma wat maar sal sorg en
sal voorsien soos wat u vir my gee om te kan voorsien.
Hulle leef met ‘n verwagting. Hoe kan ek dan opgee? Ek kan mos nie.
Nee, solank as wat u my genadig is en ek vandag oorleef, sal ek maar
weer opstaan more en sal ek veg vir die more daarna vir my kinders. Ek
sal more weer my kinders vertel daar kom iets goed hierna, al kan ons
dit nog nie sien nie en al kan ons dit nie eers dink nie, want op ‘n
manier glo hulle dit. Al leef ons hier eenkant waar die lewe ons
weggegooi het. Al reën dit weer en muf dit verder en al koop niemand
meer my “scrap metal” of “tip” my vir die karre wat ek oppas nie. Ek
kies lewe! Ek kies dit, want dis in my bloed en dit loop deur my are en
deur die eeue. En dit loop deur ons geskiedenis en deur elke uithoek van
hierdie land. Dit loop deur my en dit loop ook deur Oom Bertus wat die
kos bring, Sarie wat treur, Liena wat te veel drink, Pieta wat ‘n
brandweerman wil word en selfs Magda wat wag om dood te gaan.
Lewe. En hoop. En geloof. Wees ons genadig, Heer, terwyl ons bewerig en
bang die lewe kies.
Ek het dié as ‘n email gekry, en ek weet ongelukkig nie wie die skrywer is nie.
Sleutelwoorde:arm, Behoeftig, hartroerend, hartseer, inspirasie, liefde